Share

Die Hoërskool Dr. EG Jansen van Boksburg het 'n nuwe Direkteur van Rugby vir volgende seisoen aangestel. Die Jansies se skoolhoof, Leon de Beer, het vandag bekend gemaak dat Len Olivier vanaf 1 Oktober die pos as die Boksburgers se Direkteur van Rugby sal beklee. 

"Dit is aangenaam om aan te kondig dat Len Olivier aangestel is as Direkteur van Rugby by die skool met ingang 1 Oktober 2017," lui EG Jansen se persverklaring.

Olivier het vanjaar Tuks se Carlton-ligaspan gebrei en was ook betrokke by die Blou Bulle Tuks-rugbyakademie. Hy is ook deel van die Limpopo Blou Bulle se o.20-span se bestuurspan. 

Die 31 jarige Olivier het in sy loopbaan vir die Valke (33 wedstryde), Blou Bulle (12), Sharks (7) en Boland (6) in Suid-Afrika gespeel. Hy was ook in 2014 'n lid van Griekwas se Curriebeker-groep, maar het nooit vir die Poubloues uitgedraf nie. In Frankryk het hy vir Montauban (2009-10), Oyonnax (2011-12), Colomiers (2012-13) en Vannes (2014) gespeel. 

Olivier is 'n oud-leerling van die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria. Hy het in 2002 en 2003 vir die Wit Bulle uitgedraf en 317 punte aangeteken. Die losskakel was ook in 2002 en 2003 'n lid van die Blou Bulle se Cravenweek-span. 

NewsGLenOlivier"As Direkteur van Rugby sal Len verantwoordelik wees vir verskeie aspekte waaronder afrigting, konsidionering van spanne, vaardigheidsontwikkeling, skopvaardighede, opleiding van afrigters, verdediging, aanstel van afrigters en spesialis-afrigters, werwing en die skep van 'n rugbykultuur," lui die verklaring. 

Die aanstelling kom na Regardt Botha (Menlopark) en Kwagga Loubser (Kempton Park) albei verlede jaar die Jansies se breintrust verlaat het. Die skool se eerstespan het verlede jaar in die eindstryd van die Virseker Beeldtrofee vasgeval, terwyl die Boksburgers as kampioen van die Noordvaal Sewes-toernooi gekroon is. 

EG Jansen het vanjaar weer gewys dat hy 'n rugbykrag noord van die Vaal is, met twee van sy spanne (o.15 en o.16) wat in die eindstryd van die Virsekerbeker in Mbombela in aksie was. Dit is 'n bewys dat daar heelwat begaafde breiers in EG Jansen se afrigterskorps is. Die o.15-span is as kampioen gekroon van die Virsekerbeker na hy vir Monument met 12-10 in die eindstryd verslaan het. 

You have no rights to post comments