Noordheuwel van Krugersdorp het Saterdag sy plek in die Hoërskole Sewesreeks se Kampioen van Kampioene-toernooi by Camp Discovery bespreek.

High School 7s NoordheuwelNories het die sesde been van die reeks wat deur hom aangebied is gewen na hy Kempton Park met 19-5 in die eindstryd verslaan het. Slegs agt spanne het aan die toernooi deelgeneem. Al die wedstryde is deur Fanstream.co.za gebeeldsend.

Dit was sonder twyfel die twee beste spanne wat mekaar in die eindstryd van die toernooi ontmoet het. Noordheuwel het sy plek in die eindstryd met ‘n klinkende sege van 38-0 oor Pretoria Boys’ High bespreek.

Kempton Park wat alle teenstand voor hom in Groep B weggevee het, het in die halfeindronde vir Piet Potgieter met 36-5 kaf gedraf.
Nories het in sy drie groepwedstryde vir Piet Potgieter (29-12), Die Anker (29-5) en Brandwag van Benoni (40-10) die loef afgesteek.

Kempies was oor Pretoria Boys’ High (17-5), Krugersdorp High (34-5) en Hugenote van Springs (26-19) baas.

Die Anker van Brakpan het die vorige week by Pionier in Vryheid tydens die vyfde been van die reeks in die eindstryd teen Glenwood (43-0) sy rieme styfgeloop.

Noordheuwel neem Saterdag ook aan die sewende been van die reeks in Paarl deel wat die Marius Schoeman Sewestoernooi is. Al die wedstryde op die JA Kriel-veld sal regstreeks op Fanstream.co.za gebeeldsend word.

Al die uitslae:

Groep A: Noordheuwel 29, Piet Potgieter 12; Die Anker 12, Brandwag (Benoni) 0; Noordheuwel 29, Die Anker 5; Piet Potgieter 33, Brandwag (Benoni) 17; Noordheuwel 40, Brandwag (Benoni) 10; Piet Potgieter 19, Die Anker 19.

Groep B: Kempton Park 17, Pretoria Boys’ High 5; Hugenote (Springs) 24, Krugersdorp High 24; Kempton Park 34, Krugersdorp High 5; Pretoria Boys’ High 26, Hugenote (Springs) 7; Pretoria Boys’ High 45, Krugersdorp High 5; Kempton Park 26, Hugenote (Springs) 19.

Halfeindronde – Bowl: Die Anker 60, Krugersdorp High 7; Hugenote 33, Brandwag (Benoni) 19. Beker: Noordheuwel 38, Pretoria Boys’ High 0; Kempton Park 36, Piet Potgieter 5.

Eindronde – Skild: Brandwag (Benoni) 56, Krugersdorp High 0. Bowl: Die Anker 26, Hugenote (Springs) 24. Plaat: Piet Potgieter 12, Pretoria Boys’ High 7. Beker: Noordheuwel 19, Kempton Park 5.