Share

Rustenburg 1Daar sal dalk nie 16 spanne tydens die Hoërskool Rustenburg se been van die Hoërskole Sewes-reeks in aksie wees nie, maar die been beloof om die felste van al die toernooie tot dusver in die reeks te wees.

Die reeks hervat Vrydag en Saterdag met toernooie in Rustenburg sowel as Durban na die eerste twee toernooie van die nuwe reeks vanjaar in Februarie in Kimberley en Bloemfontein plaasgevind het.

Die toernooi sal regstreeks via Internet TV op Fanstream.co.za gebeeldsend word. Wedstryde kan via selfoon, tablet, skootrekenaar en Slim TV’s gekyk word. Al die groepwedstryde vind Vrydag plaas, terwyl die uitspeelwedstryde vanaf 09:00 op Saterdag gespeel sal word.

Die gasheer, die Hoërskool Rustenburg, sal teen Die Anker van Brakpan en Wagpos in sy groepwedstryde sake om ‘n gunstige plek in die kwarteindrondes uitspook. Buiten Rustenburg behoort die Hoërskool Alberton, Kempton Park, Waterkloof, Lichtenburg, Noordheuwel en Montana almal sterk aanspraakmakers op die titel as kampioen te wees.

Kempton Park se kanse het ‘n hupstoot gekry as gevolg van die feit dat sy eerste rugbyspan verlede Saterdag met 27-37 in die kwarteindronde van die Virsekerbeker teen Garsfontein vasgeval het. Kempies se breier, Kwagga Loubser, het verlede jaar as afrigter van EG Jansen die Noordvaal Sewes-toernooi verower.

Montana van Pretoria is ook ‘n skool wat sy sewes ernstig opvat en kan nooit ligtelik opgeneem word nie. Lichtenburg kan indien Bertru Jones en Henk Venter vir die span uitdraf ‘n sterk aanspraakmaker op die titel wees. Jones is glo reeds op die SA Sewes-akademie se radar, terwyl Venter een van die beste spelers in die land is wat nie vanjaar op die Cravenweek in aksie was nie.

Die kampioen sal vir himself ‘n plek in die Kampioen van Kampioene-toernooi later vanjaar in Oktober bespreek. Goudveld-Hoërskool van Welkom en Louis Botha van Bloemfontein het reeds hul plekke in die spogtoernooi bespreek.

Die eindstryd van die o.18-toernooi in Rustenburg sal om 13:20 beslis word. In die o.15-toernooi sal die eindstryd om 15:00 gespeel word.

In die o.15-afdeling is daar agt spanne wat sake om die titel sal uitspook. Hulle is Rustenburg, Die Anker, Dr. Malan, Wesvalia, Krugersdorp High, Montana, Alberton, Hoërskool Middelburg, Kempton Park en Wagpos.

Die reeks word deur die welbekende in seweskringe Darryl Weir georganiseer. Weir het ook help reël aan die gewilde @lantic Sewesreeks wat destyds ‘n belangrike rol in die ontwikkeling van Blitsbokke soos Branco du Preez, Hoffman Maritz, Cecil Afrika en Justin Geduld gespeel het.

Spelers wat aan die Hoërskole Sewes-reeks deelneem sal ook in aanmerking kom om later vanjaar saam met verteenwoordigende spanne aan die Dubai Sewes deel te neem. Travel en Sport identifiseer spelers tydens die toernooie wat dan uitnodigings sal ontvang om in Desember saam met die toergroepe te reis.

Die Poele:

Poel A: Hoërskool Alberton, Lichtenburg, Selly Park.
Poel B: Kempton Park, Dr. Malan, Waterkloof.
Poel C: Noordheuwel, Montana, Wesvalia.
Poel D: Die Anker, Hoërskool Rustenburg, Wagpos.

Die bepalings:

Vrydag, 18 Augustus 2017

A-veld: 15:00 – Rustenburg t. Wagpos; 15:40 – Dr. Malan t. Waterkloof; 16:20 – Noordheuwel t Wesvalia; 17:00 – Hoërskool Alberton t. Selly Park; 17:40 – Die Anker t. Rustenburg; 18:20 – Kempton Park t Dr. Malan.

B-veld: 15:20 – Montana t. Wesvalia; 16:00 – Lichtenburg t. Selly Park; 16:40 – Die Anker t. Wagpos; 17:20 – Kempton Park t. Waterkloof; 18:00 – Noordheuwel t. Montana; 18:40 – Hoërskool Alberton t. Lichtenburg.

You have no rights to post comments