Share

NewsGKennedyMpekuWallis se losskakel, Cai Evans, het sy span tot ‘n sege van 30-28 oor die Suid-Afrikaanse Skole-span in die Markotter-stadion in Stellenbosch geskop. Die Suid-Afrikaners het heeltemal te veel foute begaan en daar kan ook heelwat vrae oor die tuisspan se taktiek vir die kragmeting gevra word

Evans het ses strafdoele tussen deur die pale gejaag en ook een van sy span se twee drieë verdoel vir ‘n persoonlike bydrae van 20 punte. Sedert die SA Skole-span jaarliks teen Wallis, Engeland en Frankryk te staan kom is dit die eerste keer wat Wallis daarin kon slaag om die Suid-Afrikaners te wen.

Wallis se agtsteman, Lennon Greggains, het binne die eerste minuut vir sy span se eerste drie oorgegaan. Dit is deur die losskakel, Evans, verdoel. Evans het kort daarna ook met ‘n strafdoel geslaag om aan sy span ‘n voorsprong van 10-0 te gee.

Greggains het ook sy span se tweede drie gedruk, terwyl Dylan Richardson in die koelkas was. Die SA Skole-span het wel in die laaste tien minute veggees getoon deur twee keer te gaan druk om ‘n kans te staan om die wedstryd in die doodsnikke deur te trek.

Eers het die plaasvervanger-flank Mark Snyman oorgeval, voordat Muller du Plessis die plaasvervanger-haker, Morné Brandon, vir ‘n drie oorgestuur het. Die skrumskakel, Sanele Nohamba, het die drie met ‘n skepskop vervyf en met net meer as ‘n minuut se speeltyd oor was die Suid-Afrikaners met ‘n agterstand van slegs twee punte binne reikafstand van ‘n sege.

Die SA Skole-span se taktiek om die bal voorlangs te hou met rolmaalbewegings asook om die bal agter die losskrums op te pik en te dryf moet bevraagteken word. Die enigste positief wat uit die fisieke benadering deur die SA Skole-span gekom het, is dat dit duidelik is dat die slot Kwagga van Niekerk en Varkie Greyling ysters is.

Die span se enigste drie in die eerste helfte het gekom na die bal vir slegs een van twee keer in die agterlyn se hande op die aanval beland het. Die vleuel Andrew Kota het die bal wyd geslinger en die heealgter, Kennedy Mpeku, gevind wat onaangeraak die doellyn oorgesteek het.

Die enigste ander keer wat die bal met die agterlyn langs in Wallis se helfte gestuur is, het slegs die hand van Wallis se regtervleuel, Tomi Lewis, die tuisspan van ‘n drie weerhou. Die skeidsregter, Jaco Pretorius, het Lewis met ‘n geelkaart van die veld vir die oortreding gestuur.

Na 18 minute se spel in die kragmeting het Suid-Afrika amper sake gelyk getrek, maar die voorryman Keegan Glade het die bal oor die doellyn aangeslaan.

Dit was ook ‘n interresante besluit deur die Suid-Afrikaners se bestuurspan om vier heelagters in sy beginspan in te sluit. Die vleuels Andrew Kota (Griffons) en Muller du Plessis (WP), heelagter Kennedy Mpeku (Goue Leeus) en die buitesenter Diego Appollis (Blou Bulle) het almal tydens die Coca-Cola Cravenweek vir hul onderskeie unies die laaste vesting beman. Appollis speel wel vir sy skoolspan, Garsfontein, in die middelveld.

Puntemakers:

Wallis 30 (19) – Drie: Lennon Greggains (2). Doelskop: Cai Evans. Strafdoele: Evans (6). SA Skole 28 (5) – Drieë: Kennedy Mpeku, Mark Snyman, Morné Brandon. Doelskop: Sanele Nohamba (2). Strafdoele: Christopher Schreuder (3).

You have no rights to post comments