Share

NewsGChristopherSchreuderKan daar vanjaar weer ‘n dubbeldoor wees?

Verlede jaar het die Blou Bulle se losskakel, Ruan de Swardt, die eerste sportman sedert Adrian Penzhorn in 2002 geword om hom by ‘n uitgelese groep sportmanne aan te sluit wat SA Skole-klere in rugby sowel as krieket verwerf het.
Daar is vanjaar ‘n sterk aanspraakmaker in die Vrystaat se losskakel, Christoper Schreuder, om ook sy naam by dié uitgelese groep van 12 sportmanne te voeg.

Schreuder was verlede jaar met 369 lopies die voorste lopiemaker op die Khaya Majola-krieketweek. Dit het twee honderdtalle teen onderskeidelik Oostelike Provinsie (134) en KwaZulu-Natal Binneland (126*) ingesluit.

Schreuder was ook verlede jaar in Durban die voorste puntemaker op die nasionale Akademie-week met 55 punte. Dis dalk net toeval maar De Swardt was die vorige jaar in Vanderbijlpark met 57 punte die voorste puntemaker van die Akademie-week.
Schreuder se skakelmaat, Ross Braude (Grey-kollege), is die neef van die SA Skole-kaptein en skrumskakel van 2009, Pieter Rademan.

Gepraat van krieketspelers, Grens het twee spelers in sy geledere wat al die Suid-Afrika se o.19-span op die krieketveld diens gedoen het. Hulle is die binnesenter, Sinethemba Qeshile, en heelagter, Jason Raubenheimer. Raubenheimer sal volgende jaar sy rugbyloopbaan by die Sharks voortsit.

Die Westelike Provinsie se haker, Chris Rossouw (Paarl Gimnasium), se pa met dieselfde naam was ‘n lid van die Springbok-span wat in 1995 as wêreldkampioen gekroon is. Rossouw sr. het in 1987 vanuit Hugenote in Springs die SA Skole-span gehaal.

Die Streeptruie se heelagter, Muller du Plessis (Paarl Gimnasium), het verlede jaar reeds die nasionale skolespan op vleuel verteenwoordig. Die haastige speller wat die 100m al vinniger as 10.6 sekondes afgenael het oefen slegs met rekke en nie gewigte nie.

Du Plessis se pa, Charl (Kroontad Landbou, 1978) en broer, JP (2009), het ook op hul dag die SA Skole-span verteenwoordig. Charl het ook vir Transvaal se seniorspan gespeel, terwyl JP ook vir die Cheetahs en Kings op seniorvlak verteenwoordig het.

KwaZulu-Natal se senter Rynardt Jonker is die seun van die voormalige internasionale skeidsregter, Marius Jonker. Marius het in sy loopbaan 25 toetswedstryde hanteer.

Die Goue Leeus se haker, Morné Brandon, sal nie in sy span se eerste wedstryd teen Grens in aksie wees nie. Brandon was Saterdag in die eindronde van die diskus op die Wêreld-Jeugkampioenskap in Nairobi, Kenia vir Suid-Afrika in aksie.

Die nasionale Akademie-week vind ook van more op die velde van St Stithians College plaas. Die Westelike Provinsie behoort sy oorheersing van dié toernooi in die Goudstad voort te sit.

Die Streeptruie is die afgelope drie toernooie as die nie-amptelike kampioen gekroon en was in die afgelope tien jaar slegs twee keer aan die verloorkant in 30 wedstryde. In die dekade was die span agt keer in die hoofwedstryd van die week in aksie en het slegs in 2010 met Boland (25-elk) die louere gedeel.

Die Cravenweek-bepalings is:

More: 08:30 – Griffons t. Griekwa-platteland; 10:05 – Limpopo Blou Bulle t. Grens-platteland; 11:35 – Vrystaat t. Boland; 13:15 – Westelike Provinsie t. Pumas; 15:30 – Goue Leeus t. Grens:

Dinsdag: 09:00 – Valke t. Namibië; 10:35 – Luiperds t. Zimbabwe; 12:05 – Griekwas t. OP-platteland; 13:45 – Suidwestelike Distrikte t. OP; 15:30 – Blou Bulle t. KwaZulu-Natal.

You have no rights to post comments