Share

NewsG DuineveldDie eerste rugbyspan van die Hoërskool Noord-Kaap het vir die tweede jaar op 'n streep met die louere in sy FNB Classic Clash met Diamantveld weggestap. Northerns het op sy tuisveld, Pirates, vir Diamantveld met 26-19 geklop.

Die tuisspan se haastige vleuel Cameron Hufke was die grootste verskil tussen die twee spanne. Hufke het met sy vaart 'n hele paar keer vir Diamantveld probleme besorg. Hy het ook twee keer die doellyn oorgesteek. Die span se bonkige, maar woelige loskopstut, Conrad "Spinnekop" van Aswegen, het voorlangs vir Diamonds probleme besorg. Hy het soos gewoontlik etlike meters veld met sy kraglopies gewen.

Diamantveld het na slegs tien minute se spel 'n voorsprong van 14-0 opgebou. Diamonds se stut WS Coetzer asook die haker Marco van Straaten moes daarna tien minute in die koelkas deurbring. Dit het Diamonds se momemtum gebriek. Die twee spanne het met die telling op 14-elk gaan rus. Diamonds se heelagter, Ashwill Botha, het net na die afskop van die tweede helfte ook 'n geelkaart ontvang.

Diamonds se flank Leonard Barnard was soos met Coetzer hul span se staatmakers. Die losskakel, Charles Williams, het nie 'n goeie dag met sy skopskoen beleef nie. Hy het drie strafdoele asook 'n doelskop skeef gekorrel. Hy het wel een van sy span se drie drieë afgerond.

Duineveld was oortuigend met 40-12 in die Klein Interjol oor die Hoërskool Upington baas. Dit was 'n opwindende kragmeting waarin hardlooprugby geseëvier het. Die Velties het meeste van die balbesit geniet en ook daarin geslaag om die besit in punte om te skakel.

Dit was veral Velties se kaptein en vleuel, Sebastiaan Jobb, wat met 'n paar stukkies individuele briljantheid vir Upington probleme besorg het. Hy het drie keer gaan druk, waarvan twee drieë te danke aan sy vaardighede en ongelooflike vaart was. Dan het hy ook op verdediging menigte aanval van Uppies in hul spore gestuit.

Vir Uppies het sy vaskopstut, Phillip Marais, losskakel Iwan Lombaard en agtsteman, Nakkie Duvenhage, goeie vertonings gelewer.

Buiten Jobb het die losskakel Chris Goosen, senter Henlu Liebenberg en heelagter, Cameron van Rhyn, goeie wedstryde agterlangs beleef. Voorlangs het die slotte Gideon Rossouw en Jovan Oosthuizen, agtsteman SJ Oberholzer, ingeklim. 

Die Leeus van die Hoërskool Kalahari het vir die derde agtereenvolgende jaar vir Kathu in hul jaarlikse interskole kaf gedraf. Kalahari was met 41-12 oor Kathu baas. 

Die Hoërskool Daniëlskuil se Delron Speelman het 'n driekuns aan drieë in sy span se sege van 50-14 oor die Hoërskool Martin Oosthuizen van Kakamas behaal. 

Puntemakers: 

Noord-Kaap 26 (14): Drieë: Cameron Hufke (2), Conrad van Aswegen, Ramon Sauls. Doelskoppe: Hufke (3). Diamantveld 19 (14): Drieë: Timothy Harding, Charles Williams, Lambert Cronjé. Doelskoppe: Williams (2).

Duineveld 40: Drieë: Sebastiaan Jobb (3), Heini Muller, Cameron van Rhyn, Valdo Peters. Doelskoppe: Henlu Liebenberg (5). Hoërskool Upington 12

Hoërskool Kalahari 41: Drieë: Alrich Sterling (2), John-William van Heerden (2), Erik Kies, Ajay van Zyl, AJ Fourie. Doelskoppe: Louis du Plessis (3). Kathu 12.

Hoërskool Daniëlskuil 50: Drieë: Delron Speelman (3), Jacques Marthinus, Junaid Beukes, Vuyani Masego, Ayanda Mpungose, Justin Joubert. Doelskoppe: Quilon Morgan (5). Martin Oosthuizen (Kakamas) 14.

You have no rights to post comments