Share

NewsGPaulRoosDie Wolramme van die Hoër Landbouskool Marlow in Cradock kon nie Donderdag daarin slaag om staande te bly teen die aanslag van die Blou Tornado van die Hoërskool Waterkloof op die eerste dag van King Edward VII se jaarlikse Paas-rugbytoernooi nie.

Klofies het die wedstryd met 25-12 gewen. PJ Krugell het in dié wedstryd sy 12de drie van die seisoen vir Klofies behaal.

Eldoraigne het sy moddergeveg teen Hudson Park met 10-5 gewen.

Albei spanne het ’n drie gedruk met die skopskoen van die senter Riaan Burger wat die verskil tussen die twee spanne was.

Die Hoërskool Ben Vorster van Tzaneen het vanjaar ook ’n gedugte span en het Kingswood College in Grahamstad met
25-10 geklop.

Op St John’s College se jaarlikse Paastoernooi het die Hoër Jongenskool Paarl Donderdag terug op die wenpad gekom deur ’n uitnodigingspan van Eye of the Tiger op ’n drafstrap met 57-0 te troef.
Boishaai het kort voor die toernooi teruggekeer van ’n toer van vier wedstryde deur Nieu-Seeland.

Die span het in sy laaste toerwedstryd teen Christchurch Boys’ High met 36-38 vasgeval. Dit was die span van die Paarl se eerste nederlaag in 42 wedstryde.

Die Afrikaanse Hoër Seunskool het op ’n papnat veld Hilton College met 17-6 die loef afgesteek.

Dit het nooit gelyk asof Affies die wedstryd sou verloor nie, maar in die nat toestande het die span se hantering hom in die steek gelaat.

Affies se flank Jaco Labuschagne het uitstekende spel vir sy span gelewer.

Die Maroen Masjien van Paul Roos Gimnasium het die Nelspruit Rhinos met 44-6 gekarnuffel.

Die span van die Eikestad het teen rustyd reeds ’n stewige voorsprong van 27-6 geniet.

Paul Roos se flank Philip van Dyk het twee keer die doellyn oorgesteek, terwyl die voormalige Bok-senter Brendan Venter se seun met sy pa se naam ook ’n draai agter die doellyn gemaak het.

Kearsney College se Paastoernooi vier vanjaar sy tiende bestaansjaar.
Die HTS Middelburg se Rooi Bulle het in die hoofwedstryd van die eerste dag ’n gedugte span van die Hoërskool Noord-Kaap met 21-19 geklop.

Monument van Krugersdorp, HTS Drostdy van Worcester en Selborne College van Oos-Londen was die spanne wat die meeste op die eerste dag van die toernooi beïndruk het.

Monnas het Dale College oortuigend met 33-16 verslaan.

Die span van Krugersdorp se agttal met sy losvoorspeler PJ Jacobs aan die spits het die grondslag vir die sege gelê.

Die Donkies van Drostdy het die gasheer, Kearsney, met 45-17 getroef, terwyl Selborne vir EG Jansen van Boksburg met 46-19 afgestof het.

South African College Schools (SACS) was die span wat die meeste met hul spel in die koue en die reën op die eerste dag van die St. Stithians-Paastoernooi beïndruk het.
SACS het op ’n sopnat veld vir Michaelhouse met 28-0 die loef afgesteek.

Die gasheer het sy toernooi ook met ’n sege afgeskop deur Graeme College in die doodsnikke met 19-17 te troef.

Saints se vleuel Shane Lindsay het met slegs sekondes oor op die skeidsregter se stophorlosie vir die wendrie oorgeduik.

St. Alban’s College het ook in die doodsnikke ’n sege van 24-22 oor Durban High School behaal. Die span van Pretoria word deur die voormalige Zimbabwiese en Cheetah-losskakel Kennedy Tsimba gebrei.

Durban High School se twee breiers, Scott Mathie en Ronnie Uys, het self provinsiale rugby op hul dag gespeel.

In die hoofwedstryd het Grey High van Port Elizabeth vir Westville Boys’ High met 27-8 die loef afgesteek.

Al Donderdag se Paastoernooie se uitslae: 

St John’s College: Paul Roos Gimnasium 44, Hoërskool Nelspruit 6; Affies 17, Hilton College 6; Hoër Jongenskool Paarl 57, Eye of Tiger 0; St John’s College 20, Florida 13; Helpmekaar 65, St John’s College (Harare) 7; Parktown Boys’ High 26, NSW Combined School 19.

Kearsney College: HTS Middelburg 21, Noord-Kaap 19; Glenwood 21, Framesby 10; Monument 33, Dale College 16; Pretoria Boys’ High 22, Queen’s College 15; Selborne College 46, EG Jansen 19; HTS Drostdy 45, Kearsney College 17.

St Stithians: Grey PE 27, Westville Boys’ High 8; SACS 28, Michaelhouse 0; St Stithians College 19, Graeme College 17; St Alban’s College 24, Durban High School 22; St Andrew’s College 39, St David’s Marist 10; Maritzburg College 36, St Benedict’s College 6.

King Edward VII: Rondebosch Boys’ High 26, Jeppe High School for Boys’ 0; King Edward VII 42, Wynberg Boys’ High 17; Waterkloof 25, Marlow Landbou 12; Eldoraigne 10, Hudson Park 5; Ben Vorster 25, Kingswood College 10; Noordheuwel 19, Northwood 13.

You have no rights to post comments