Sulke verkramptheid kan nie deug

Written by Hannes Nienaber

Rugbyunies in Suid-Afrika moet ná 20 jaar van beroepsrugby die sportsoort meer professioneel benader as wat hulle nou doen.

Daar is steeds unies wat skoolkinders “dreig” met weglating uit provinsiale spanne as hulle (die spelers) nie vooraf hul lojaliteit aan ’n betrokke unie toesê nie. Dit is verstommend.

Die Westelike Provinsie – en hy is sekerlik nie al unie nie – het glo op dié provinsie se klereoorhandiging-seremonie spelers gevra om hul lojaliteit aan die span op skrif neer te pen.

Spelers wat reeds kontrakte met ander unies onderteken het, moes glo eers eenkant staan.

Daar was na bewering vroeër ook probleme met die goedkeuring van die span.

Grens het ’n paar jaar gelede iets soortgelyks gedoen toe hulle Queen’s College se skakelpaar, Joshua Stander en JP Smith, uit hul Cravenweek-span weggelaat het omdat hulle reeds kontrakte met die Blou Bulle gehad het.

Vroeër vanjaar was Gert Smal, die WP se direkteur van rugby, ongelukkig omdat die Blou Bulle in ’n brief – soos deur die reëls van die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru) vereis word – aangedui het dat hulle in 62 Wes-Kaapse skolespelers belangstel.

Ek dink die unies moet besef die Suid-Afrikaanse Skolerugby-vereniging (SASRV) en die onderwysers wat as beamptes die spel dien, is steeds besig met die opvoeding van kinders.

Watter opvoedkundige doel dien dit as skole-verenigings spelers weglaat op die aandrang van unies omdat dié spelers reeds kontrakte met ander unies gesluit het?

Dié verenigings moet toegelaat word om hul beste spelers Cravenweek toe te stuur.

’n Ongewensde nagevolg kan wees dat meer spelers reeds op skool na ander provinsies skuif omdat hul toekomsplanne as rugbyspelers hul plekke in hul unie se Cravenweek-span kan kos.

By die VKB-week wat tans in Reitz plaasvind, bied die Stellenbosch Rugbyakademie beurse aan vir die Speler van die Wedstryd (R10 000), beste speler in elke posisie (R15 000), en aan die Voor- en Agterspeler van die Toernooi (R20 000).

Moet ’n speler van die Oos-Vrystaat wat dalk so ’n beurs kry en nog o.17 is, dan volgende jaar nie in aanmerking kom vir ’n plek in die Griffons se Cravenweek-span nie?

Die SASRV sal ook dalk moet gesels oor spelers wat hulself nie beskikbaar stel vir verteenwoordigende spanne.

Gerhard Steenekamp, Potchefstroom Gimnasium se agtsteman, en waarskynlik die beste speler op eerstespanvlak in Noordwes, het besluit om homself nie vir die Luiperds se Cravenweek-span beskikbaar te stel nie.

Steenekamp is wel glo steeds beskikbaar om vir Gimmies te speel.

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.