Underhay se visie word jaar na sy afsterwe bewaarheid: Coetzee word 'n Donkie

Written by Hannes Nienaber

Hans_Coetzee School of Rugby | Underhay se visie word jaar na sy afsterwe bewaarheid: Coetzee word 'n Donkie - School of RugbyDaar is geen twyfel dat wyle Arthur Underhay baie gelukkig oor HTS Drostdy se nuutste aanstelling as Direkteur van Rugby, Hans Coetzee, sou wees nie. Underhay is verlede jaar op 20 Desember oorlede toe hy nog skoolhoof van die Donkies was. 

Die geliefde skoolhoof het reeds in 2019 voor die Coronavirus-pandemie gepoog om Coetzee na Worcester te lok. Sake het destyds nie uitgewerk nie en Coetzee het hom as die Direkteur van Rugby by die Hoërskool Durbanville aangesluit. 

Dat dit so uitgewerk het dat HTS Drostdy presies 'n jaar na Underhay se afsterwe aangekondig het dat Coetzee die nuwe Direkteur van Rugby is, is dalk 'n voorbode dat laasgenoemde bestem was om uiteindelik hier op te eindig. 

Coetzee sal Sylvester Booysen vervang wat intussen as die Hoërskool Eldoraigne in Centurion se Hoof van Sport aangestel is. Booysen het hom in 2020 by die Donkies vanaf Ben Viljoen van Groblersdal aangesluit. 

Coetzee is 'n legende in skolerugby-kringe en het op sy dag ook al die Goue Leeus se seniorspan gebrei. Underhay was waarskynlik een van die Goue Leeus se grootste ondersteuners. 

Coetzee het vir homself as afrigter naam gemaak by die Hoërskool Monument in Krugersdorp waar hy vir 22 jaar die skool se eerstespan gebrei het. Hy het ook die SA Akademie- en SA Skole-rugbyspanne op sy dag afgerig.

[powr-comments id="ff9ee047_1639992824024"]