Min kragmetings so fisiek soos wanneer EG Jansen en Monnas mekaar pak

Written by Hannes Nienaber

EG-Jansen-vs-Monument School of Rugby | Min kragmetings so fisiek soos wanneer EG Jansen en Monnas mekaar pak - School of RugbyDie Hoërskool Dr. EG Jansen se eerste rugbyspan sal Saterdag vir die eerste keer in 2021 op sy tuisveld uitdraf. Dit is nou wel nie voor 'n tuisskare nie, maar dié kragmeting teen Monument sal steeds 'n spesiale wedstryd wees. 

Die kragmeting word regstreeks op EG Jansen se eie TV-stasie, Jansie TV, op DigiTV uitgesaai. Kliek op die volgende regstreekste skakel op na die wedstryde te kyk - https://bit.ly/EGMonnas

Die Jansies sal hulself ongelukkig ag oor die feit dat hulle twee weke gelede met 24-26 teen Garsfontein vasgeval het. Die Garsies het danksy 'n drie met sekondes oor deur die plaasvervanger-skrumskakel, Steven Nel, vir EG Jansen van 'n sege beroof. 

Wedstryde tussen die beste van Oos-Rand en die Wes-Rand is altyd fisiek. Die Jansies sal ook bewus wees dat hulle in die laaste ses kragmetings tussen die twee skole nie die soet smaak van 'n oorwinning kon proe nie. 

Dit sal die eerste keer sedert 2019 wees dat die twee skole mekaar die stryd aansê. EG Jansen was laas baas in 'n kragmeting toe hy in 2015 in die eindstryd van die destydse Tuks-reeks vir Monnas met 29-17 die loef afgesteek het.

Daar het dus baie water in die see geloop sedert die twee spanne mekaar laas ontmoet het en nog meer sedert EG se laaste oorwinning oor die Wit Bulle. Saterdag se kragmeting beloof egter om 'n riller te wees. 

Die tuisspan is steeds sonder sy gevaarlike heelagter, Jason Edwards, wat steeds weens 'n kniebesering langs die kantlyn sit. Die span van Boksburg beskik egter steeds oor genoeg skeitgoed agterlangs in Eben Hyman (binnesenter), Keagan Balfour (vleuel), Kyle Benade (loskakel) en Louis de Bruyn (skrumskakel).

Balfour het die hele seisoen tot dusver senter gespeel, maar hy kan my sy voetwerk en vaart probleme vir Monnas op die punte besorg. 

Die groot stryd is egter voorlangs met albei spanne se hakers, Kyle Pepler (EG Jansen) en Jaco Bezuidenhout (Monnas), wat die twee spanne sal aanvoer. Die Wit Bulle het boonop vir Jan-Hendrik Bessinger op slot in hul span ingesluit. Hy het vroeër vanjaar vanaf loskopstut die span tydens die Monnas Eeufeestoernooi aangevoer. 

Monnas se ander twee staatmakers, Tiaan Wessels (agtsteman) en Evan Retief (flank), sal op hul stukke moet wees indien hulle met 'n sege na Krugersdorp wil terugkeer. 

Die spanne is: 

EG Jansen: 15 Jaydon Bantom, 14 Giovanni van Eeden, 13 Armand Smit, 12 Eben Hyman, 11 Keagan Balfour, 10 Kyle Benade, 9 Louis de Bruyn, 8 Brandon Smith, 7 Werner Groenewald, 6 Xander Marais, 5 Franco Bredenkamp, 4 Ryno van Aswegen, 3 Adriaan du Plessis, 2 Kyle Pepler (kaptein), 1 Jonathan Redelinghuys. 

Monument: 15 Alec Vermaak, 14 Zain Henery, 13 Waldo van den Berg, 12 Enrich Bulow, 11 Brian Bianchina, 10 Ian de Fouw, 9 Deon-Divan Groenewald, 8 Tiaan Wessels, 7 Xander Schoeman, 6 Evan Retief, 5 Dewan Olivier, 4 Jan-Hendrik Bessinger, 3 Cas Botes, 2 Jaco Bezuidenhout, 1 S'fiso Magwaza. 

Afskop: 12:30

Regstreeks op DigTV vanaf 08:00 - https://bit.ly/EGMonnas.

[powr-comments id="0d5b1fa2_1631265614076"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.