Gim se o.16-week voortaan dié Jean de Villiers o.16-rugbyfees

Written by Hannes Nienaber

JdVFest School of Rugby | Gim se o.16-week voortaan dié Jean de Villiers o.16-rugbyfees - School of RugbyDie jaarlikse o.16-rugbyfees wat deur Paarl Gimnasium aangebied word, sal voortaan as die Jean de Villiers o.16-rugbyfees bekend staan. Die gewese Springbok-kaptein, Jean de Villiers, is 'n oud-leerling van die skool. Die land se voorste o.16-skolespanne trek jaarliks in die Paarl saam om mekaar die stryd aan te sê. 

De Villiers het tussen sy toetsbuiging in 2002 en sy uittrede in 2015 die Bokke in 109 toetse verteenwoordig. Hy het in sy matriekjaar in 1999 die Westelike Provinsie se Akademie-span op die Cravenweek verteenwoordig, maar steeds weens 'n rits blink vertonings daarin geslaag om in die Suid-Afrikaanse Skole-span opgeneem te word. 

Die o.16-fees sou vanjaar vir die 28ste keer deur Paarl Gimnasium aangebied gewees het. Die toernooi kon ongelukkig soos vele ander weens die Covid-19 pandemie nie plaasvind nie. "Hierdie toernooi het van ‘n klein begin gegroei tot ‘n sportgeleentheid waarop ons baie trots kan wees," lui die skool se verklaring. 

Daar sal in die toekoms ook nie meer o.14-spanne toegelaat word om aan die fees deel te neem nie. Daar sal slegs 24 van die land se voorste skole se o.16-spanne na die Jean de Villiers o.16-rugbyfees genooi word. 

"Ons bedank elke skool wat oor die laaste 27 jaar aan hierdie toernooi deelgeneem het. Dié toernooi skep ‘n geleentheid waar jong rugbyspelers op ‘n hoë vlak teen die topskole buite ons provinsie se grense kan meeding," sê die skool in die verklaring. 

“Ek is geweldig trots om my naam aan hierdie roemryke toernooi te koppel. Agt-en-twintig jaar wat ‘n platform geskep is om nie net as rugbyspelers te groei nie, maar ook om nuwe vriendskappe vanuit diverse agtergronde te kweek. Rugby word as ‘n hulpmiddel gebruik om vaardighede en waardes te ontwikkel wat jou sal help om suksesvol te wees in enige rigting waarin jy gaan," sê De Villiers.

Uitnodings na die skole sal reeds in Julie vanjaar aangestuur word. 

"Hopelik kan die fees meer groei en ‘n positiewe impak op elke speler wat deelneem se lewe maak, asook ‘n leerervaring vir die afrigters en ‘n gesinsvriendelike omgewing vir elkeen wat die fees bywoon, skep.” het De Villiers gesê. 

[powr-comments id="67f32b4f_1594377886945"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.