Garsie Bere grom met Rowan Cloete aan die spits teen Kempies

Written by Hannes Nienaber

NewsGStellenberg School of Rugby | Garsie Bere grom met Rowan Cloete aan die spits teen Kempies - School of RugbyDie Hoërskool Garsfontein het reeds gister tydens sy eerste wedstryd van die seisoen gewys dat hy vanjaar weer een van die voorste skolespanne noord van die Vaalrivier sal wees. 

Die Garsies het Kempton Park met 71-5 tydens die jaarlikse Afgri Prestige Rugbydag op Loftus Versveld se B-veld kaf gedraf.

Die Garsie Bere se skrumskakel, Rowan Cloete, is welverdiend as Speler van die Wedstryd aangewys. Cloete het vier keer Kempies se doellyn oorgesteek. Hy het met sy skerp breekslae en gladde diens vanagter die oond hoofbrekens vir die verloorspan besorg. 

Die groot en sterk buitesenter, Kerneels Coertze, het ook dubelle driedruk-plesier ervaar. Coertze het met sy sterk lopies in die middelveld beïndruk. Die losskakel, Carlton Banies, het ook sy agterlyn seepglad weggestuur en 'n hand in 'n hele paar drieë gehad. 

Garsies se agtsteman, Hardus Rothman, asook die vaskopstut, Byron Marx, het ook genoeg gedoen om 'n klop op die skouer te kry. 

Kempton Park verdien egter meer lof as wat die telling aandui. Die span het moedig geveg en ook vroeg in die wedstryd die voorsprong geneem toe sy slot, Chris Opperman, oor die doellyn geval het na harde werk deur die hele agttal. 

Die Hoërskool Stellenberg het sy eerste verskyning tydens die jaarlikse Afgri Prestige Rugbydag met 'n sege van 27-3 oor Ellisras gevier. Die span vanuit Kaapstad het egter nog heelwat werk wat voorlê indien hy vanjaar weer onder die voorste 20 spanne in die land wil tel. 

Stellenberg het heelwat hanteerfoute in die wedstryd begaan en het nog nie na 'n geoliede masjien gelyk nie. Die Jade Brigade kom eerskomende Vrydag tydens die Noord/Suid-toernooi teen EG Jansen van Boksburg te staan.  

Die span het wel in die tweede helfte meer ritme in sy agterhoede gekry en toe die bal punte toe geskuif is ook meer spasie geskep. Veral die linkervleuel, Luca Wienand, het baljaar wanneer hy is besit gestel is. Hy is sterk op sy bene en word moeilik grond toe gebring. Hy het ook deurgans werk gesoek en was waarskynlik sy span se mees waardevolste speler op die dag. 

Die skrumskakel, Jayden Sam, asook die plaasvervanger-voorryman, Alistaire Bosman, kan ook tevrede met hul vertonings voel. Die span van Ellisras het moedig probeer en meer punte op die telbord verdien, maar het op die ou einde uit stoom gehardloop.  

Ellisras se agtsteman, Janco Lötter, en die skakelpaar, WP Vermeulen en Ruan Basson, het met hulle spel beïndruk. Vermeulen moes wel ook tien minute in die koelkas deurbring. 

Puntemakers: 

Stellenberg 27 (15) - Drieë: Luca Wienand (2), Scott Enslin, Connor Pretorius. Doelskoppe: Meyr Retief (2). Strafdoel: Retief. Ellisras 3 (3) - Strafdoel: Ruan Basson. 

Garsfontein 71 (26) - Drieë: Rowan Cloete (4), Kerneels Coertze (2), Carlton Banies, Byron Marx, Bertus Sadie, Neil Gericke, Hardus Rothman, Chadlee Valentine. Doelskoppe: Stephan Spies (6). Kempton Park 5 (5) - Drie: Chris Opperman.

[powr-comments id="8294a1e6_1584259469548"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.