Noord Suid Derby gaan help glans gee aan Worcester se 200ste bestaansjaarvieringe

Written by Hannes Nienaber

NoordSuidDerby School of Rugby | Noord Suid Derby gaan help glans gee aan Worcester se 200ste bestaansjaarvieringe - School of RugbyDaar sal volgende jaar groot makietie in Worcester gehou word. Die dorp in die Breede Vallei vier volgende jaar sy 200ste bestaansjaar en HTS Drostdy bied saam met hierdie vieringe die jaarlikse Noord Suid Derby aan. 

Die Noord Suid Derby groei oor jaarliks en volgende jaar sal daar 48 skolerugbyspanne in aksie wees. Die fees van rugby, netbal asook hokkie sal van 20 tot 25 Maart plaasvind. Twaalf skole se eerstespanne sal elk in drie wedstryde in aksie op Trappes-park wees. 

Al die skole buiten New Orleans van die Paarl se junior-spanne (o.14, o.15 en o.16) sal ook aan die fees van rugby deelneem. In die junior-afdeling sal die spanne van Hoërskool Brackenfell ook deelneem. 

Buiten die gasheer sal HTS Daniël Pienaar van Uitenhage en Kearsney College weer vanuit die suide aan die toernooi deelneem. HTS Daniël Pienaar het vanjaar die toernooi aangebied, terwyl Kearsney College nie vanjaar aan die toernooi deelgeneem het nie. 

Die span van Durban het wel in 2018 aan die Noord Suid Derby deelgeneem. Die Hoërskool Strand het verlede jaar in Kearsney se plek aan die toernooi deelgeneem. 

Worcester GimnasiumHoërskool Tygerberg en New Orleans is die ander spanne vanuit die suide wat aan die fees sal deelneem. Dit is verblydend om Worcester Gimnasium as deel van die feesvieringe te sien. Gimmies sal volgende jaar vir die eerste keer sedert 2014 op Trappes-park in aksie wees. Dit is die laaste keer wat hulle en die Donkies mekaar op die veld die stryd aangesê het. 

Al vier skole vanuit die noorde wat vanjaar in Uitenhage in aksie was - Ben Vorster van Tzaneen, Hoërskool Middelburg, Marais Viljoen van Alberton en Transvalia van Vanderbijlpark sal volgende jaar die tog na Worcester aanpak. Die twee nuwelinge wat volgende jaar vir die eerste keer Noord Suid Derby sal deelneem is Lichtenburg en Hoërskool Secunda

In die junior-afdelings sal veral die twee o.15-spanne vanuit Worcester, HTS Drostdy en Worcester Gimnasium se spanne, se vertonings fyn dopgehou word. Die twee jaargroepe het vanjaar as o.14-spanne onder die voorste spanne in hul ouderdomsgroep in die land getel. 

Die rugbyskole is: 

Suid: HTS Drostdy, HTS Daniël Pienaar, Kearsney College, Worcester Gimnasium, Hoërskool Tygerberg, New Orleans.

Noord: Ben Vorster, Hoërskool Middelburg, Lichtenburg, Transvalia, Marais Viljoen, Hoërskool Secunda.

[powr-comments id="75209f17_1566906754934"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.