Noord/Suid se bepalings sê top skolerugby gaan in Pretoria plaasvind

Written by Hannes Nienaber

NoordSuid2019 School of Rugby | Noord/Suid se bepalings sê top skolerugby gaan in Pretoria plaasvind - School of RugbyDie voorste skolerugbyspanne in Suid-Afrika sal mekaar reeds volgende jaar tydens die jaarlikse Barloworld Toyota Menlyn Noord-Suid-toernooi in Pretoria begin uitsorteer.

Die bepalings vir volgende jaar se fees van skolerugby is bekend gemaak en ondersteuners sal reeds hul lippe aflek. Die Noord/Suid-toernooi sal van 20 tot 24 Maart in die Jakarandastad plaasvind. 

Die eerste ronde wedstryde sal op 20 en 21 Maart plaasvind. Watter een van die twee dae die onderskeie wedstryde sal plaasvind moet nog bepaal word.

Die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria, wat volgende jaar sy eeufees vier, sal in sy enigste wedstryd van die toernooi teen Paul Roos Gimnasium van Stellenbosch te staan kom. Affies bied kort daarna die Wêreld-skolefees as deel van sy feesvieringe aan. 

Vanjaar se voorste skolespan, Grey-kollege, sal teen Monument van Krugersdorp kragte meet. Wedstryde tussen die twee skolespanne is gewoontlik kliphard. Garsfontein en Paarl Gimnasium pak mekaar ook en in die twee vorige kragmetings tussen die twee skole tydens die Noord/Suid-toernooi het die vonke behoorlik gespat. 

Grey sal in sy tweede kragmeting teen EG Jansen van Boksburg te staan kom. Die span van die Rosestad kan hom dus gereed maak vir twee fisieke stryde tydens Noord/Suid. 

Outeniqua kry in die tweede ronde die geleentheid om die bordjies teen Garsfontein te verhang. Die Garsies het vroeër vanjaar tydens dié toernooi die Kwaggas met 28-24 getroef. 

Die Virsekerbeker-kampioen van 2019, die Hoërskool Menlopark, kom in sy eerste wedstryd teen Boland Landbou te staan. Die Parkies sal voel hulle het 'n appeltjie met die manne van die Agter-Paarl te skil nadat dié hom verlede jaar in die hoofwedstryd van die Loftus Prestige-aand verneder het. 

Menlopark kom in sy tweede kragmeting teen Stellenberg te staan. 

Daar is nog vele ongelooflike tweestryde wat wag tydens die Barloworld Toyota Menlyn Noord/Suid-toernooi van 2020 as daar na al die bepalings gekyk word.  

Die bepalings is: 

20/21 Maart 2020

Affies vs Paul Roos Gimnasium
Monument vs Grey-kollege
Paarl Gimnasium vs Garsfontein
EG Jansen vs Stellenberg
Helpmekaar vs Outeniqua
Waterkloof vs Durbanville
HTS Middelburg vs Welkom Gimnasium
Boland Landbou vs Menlopark
Noordheuwel vs Duineveld

23/24 Maart 2020

Grey-kollege vs EG Jansen
Garsfontein vs Outeniqua
Monument vs Boland Landbou
Paarl Gimnasium vs Helpmekaar 
Menlopark vs Stellenberg
Waterkloof vs Welkom Gimnasium
Duineveld vs HTS Middelburg
Durbanville vs Noordheuwel

LEES MEER: 

Vyf nuwe gesigte te sien in volgende jaar se Noord/Suid-toernooi

[powr-comments id="a487119f_1566890669113"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.