Eldoraigne sal Virseker-titel teen nuwelinge Ben Vorster verdedig

Written by Hannes Nienaber

NewsGBenVorster School of Rugby | Eldoraigne sal Virseker-titel teen nuwelinge Ben Vorster verdedig - School of RugbyDie Hoërskool Eldoraigne se Groen Drake sal sy titel as kampioen van die Virsekerbeker se Plaat-afdeling teen die nuweling van dié afdeling, Ben Vorster van Tzaneen, verdedig. 

Die Groen Drake het egter eers in die tweede helfte die nodige vuur gespoeg om Montana met 29-23 te kan verslaan in die halfeindstryd op laasgenoemde se tuisveld. Montana het met die omdraaislag 'n goeie voorsprong van 18-3 geniet. 

Eldoraigne het boonop met die sege die bordjies teen Montana verhang. Montana het twee weke gelede vir Eldos met 24-21 geklop. Eldoraigne het verlede jaar in die eindstryd van die Plaat-afdeling vir vir Noordheuwel met 40-29 geklop om as kampioen gekroon te word.  

Eldos se binnesenter, Waldo Noeth, was welverdiend as die Speler van die Wedstryd aangewys. Noeth het een van sy span se vier drieë in die tweede helfte gedruk asook drie van die drie verdoel. Hy het ook met 'n strafdoel sy span se enigste punte in die eerste helfte aangeteken. 

Die Groen Drake se afrigter, Johan du Toit, moes self tydens die spanpraatjie tydens rustyd vuur gespoeg het om die span tot hul vertoning in die tweede helfte aan te hits. Van verlede jaar se kampioen-span is slegs die losskakel, Marvin Pietersen, en die kaptein en vaskopstut, Barend Bezuidenhout, weer vanjaar vir Eldoraigne in aksie. 

Buiten Noeth verdien die agtsteman, Francois Bezuidenhout, ook 'n klop op die skouer vir sy vertoning. 

Ben Vorster het op 'n nat en winderige Tzaneen vir die Hoërskool Rustenburg met 12-8 in 'n klipharde halfeindstryd getroef. Die Vossies het teen rustyd 'n voorsprong van 9-3 in die onplesierige weer geniet. 

Al die Vossies se punte het danksy die skopskoen van sy heelagter, Meyer Voster, via vier strafdoele gekom. Rusties se kantman Louis Vivier het die enigste drie van die wedstryd gedruk. 

Die Buffels van Tzaneen het verlede jaar in die eindstryd van die Skild-afdeling teen Oos-Moot met 20-29 die knie gebuig. Saterdag se eindstryd tussen Eldoraigne en Ben Vorster sal op Marais Viljoen se veld in Alberton beslis word. 

FOTO: Pieter Vorster

PUNTEMAKERS: 

Ben Vorster 12 (9) - Strafdoele: Meyer Vorster (4). Hoërskool Rustenburg 8 (3) - Drie: Louis Vivier. Strafdoel: Estiaan Schonfeldt.

Eldoraigne 29 (3) - Drieë: FJ Griessel (2), Waldo Noeth, Luan Oosthuizen. Doelskoppe: Noeth (3). Strafdoel: Noeth. Montana 23 (18) - Drieë: Gerhard van Niekerk, Jooste Nel, Franco Stassen. Doelskop: Stassen. Strafdoele: Stassen (2).

Ander spanne:

o.16: Zwartkop 15, Marais Viljoen 5; Nelspruit 20, Rustenburg 14.

o.15: Marais Viljoen 12, Ben Vorster 12 (Marais Viljoen dring deur na eindstryd); Zwartkop 17, Nelspruit 7.

o.14: Rustenburg 13, Montana 11; Marais Viljoen 31, Nelspruit 0.    

[powr-comments id="68839e1f_1565517122196"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.