Grey kampioen van Wêreld Jeugfees se sewestoernooi in Kalifornië

Written by Hannes Nienaber

NEwsGGreySewesKamp School of Rugby | Grey kampioen van Wêreld Jeugfees se sewestoernooi in Kalifornië - School of RugbySuid-Afrika se voorste sewesskool, Grey-kollege, het nog 'n veer in hul hoed na hy as kampioen van die Wêreld Jeugfees se toernooi in Kalifornië, Los Angeles verlede week gekroon is.

Die span van die Rosestad het nie sy gelyke in Amerika gehad nie. Hy het die Gazelle-span ook van Suid-Afrika met 40-0 'n drag slae in die eindstryd toegedien om die kroon te dra. 

Grey-kollege se sewespan het verlede jaar albei die nasionale titels wat op die spel was verower. Hy het tydens Skolesewes Kampioenskap op Pirates in Johannesburg vir die Hoërskool Noord-Kaap van Kimberley (35-10) in die eindstryd geklop om die eerste houer van die titel te word. 

Grey het ook die Twizza Hoërskole Sewesreeks se Kampioen van Kampioene-toernooi se kroon gedra na hy die Hoër Jongenskool Paarl met 21-17 in die eindstryd verslaan het. 

Grey-kollege het in Amerika sy plek in die eindstryd met 'n klinkende sege van 36-5 oor die Harlequins All-Stars van Suid-Afrika bespreek. 

Grey het op die eerste dag van die toernooi in drie poelwedstryde vir Harlequins All-Stars (26-20), die Warriors (54-0) en Hawaiian Gardens (43-0) verslaan. Die span van Bloemfontein se taaiste teenstand gedurende die toernooi was sy eerste wedstryd teen Harlequins. Die kampioen het in die halfeindstryd gewys dat vlugflouheid dalk iets hiermee te doen gehad het. 

Op die tweede dag van die toernooi was daar geen teken van vlugflouheid nie en het Grey vir die Rangers (47-7), die Amerikaanse Skolespan (49-7) en die Rhino-akademie van Amerika (59-0) uit die pad gevee.

In Grey se geledere vir die toernooi in Amerka was spelers soos Marcell Muller, Joubert Schoeman, Riaan Brits en JD Odendaal wat waarskynlik die Vrystaatse Cravenweek-span met hul teenwoordigheid kon versterk. Die begaafde Janco Cloete sou ook in aksie op die toernooi gewees het, maar sy pa, Jaco Cloete, is tragies in 'n motorongeluk kort voor die span se vertrek oorlede.

[powr-comments id="225a7bb6_1562575769698"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.