Wie gaan nie-amptelike kroon van die Cravenweek in 2019 dra?

Written by Hannes Nienaber

Ad_Spesres School of Rugby | Wie gaan nie-amptelike kroon van die Cravenweek in 2019 dra? - School of Rugby

NewsGJurichClaassens School of Rugby | Wie gaan nie-amptelike kroon van die Cravenweek in 2019 dra? - School of RugbySkolerugby-ondersteuners kan hulle lippe aflek vir 'n opwindende hoofwedstryd van die 56ste Cravenweek  vir hoërskole op Grey-kollege se hoofveld in Bloemfontein vol intrige en tweestryde vir die fynproewer.

Die Westelike Provinsie sal ongetwyfeld as die gunsteling op die veld draf teen die Blou Bulle. Dit is egter ‘n “eindstryd” en dis Noord teen Suid – so maklik gaan dit nie vir enige van die twee spanne wees om die kroon as nie-amptelike kampioen te dra nie.

Die Streeptruie het die Sharks verlede jaar met 47-8 in die hoofwedstryd verslaan.

WP se afrigtingspan sal graag wil sien dat hul span ‘n stewige voorsprong in die eerste helfte van die wedstryd opbou. Die span oor ‘n aantal gevaarlike snellers in Angelo Osch en Curwin Gertse op die vleuels wat indien hulle genoeg balbesit in spasie kry die Ligbloues se verdediging behoorlik kan laat bontstaan.

Die Streeptruie se sleutelspeler in die hoofwedstryd sal egter sy losskakel, Kade Wolhuter, wees. Wolhuter het reeds genoeg tydens die week gedoen om vir hom ‘n plek in die Suid-Afrikaanse Skole-span te verseker. Sy besluitneming agterlangs asook verspreiding kan die verskil tussen wen of verloor wees.

Die een ding van die Blou Bulle waarvan die WP seker sal wees, is dat hulle oor ‘n sterk eindpoging beskik. Die Ligbloues het tydens die Noordvaal Bondedag ‘n agterstand van 14-26 teen die Vrystaat uitgewis om uiteindelik met 40-38 as oorwinnaars van die veld te stap.

Tydens die Cravenweek het die Ligbloues ook teen lemoentyd teen die Grens (10-17) en die Westelike Provinsie XV-tal (10-29) ‘n agterstand in die tweede helfte uitgewis om onderskeidelik met 35-24 en 36-34 te seëvier.

Die WP kan heelwat minder beweegruimte in die middelveld verwag met die Bulle se senterpaar, AJ Johnson (92kg) en Zeilinga Strydom (94kg), wat tot dusver nie veel gapings oopgelos het nie. Moet ook nie vergeet van die Ligbloues se skrumskakel, Jurich Claasens, nie. Hy is 'n speler vir die groot oomblik en sy tweestryd met Bobby Alexander kan bepaal wie die meeste speeltyd in die Nr.9-trui vir die SA Skole-span sal kry. 

Die tweestryd van die dag sal tussen die twee toekantflanke, Pierich Siebert (WP) en Simon Miller (Blou Bulle), wees. Albei is sterk aanspraakmakers vir ‘n plek in die nasionale skolespan.

Dit is die Blou Bulle se eerste verskyning in die hoofwedstryd van die gesogte toernooi sedert 2012. Die Ligbloues het destyds in die gietende reën in Port Elizabeth die Goue Leeus met 46-0 in die hoofwedstryd verslaan om as nie-amptelike kampioen gekroon te word.

In 2012 het die eer om die hoofwedstryd te blaas vir die eerste keer ooit in die hande van ‘n Vrystater Jaco Kotze behoort. Nog ‘n Vrystater Griffon Colby sal Saterdag die hoofwedstryd hanteer. Colby is slegs die tweede Vrystater wat hierdie eer te beurt val.

‘n Slegte voorbode vir die Westelike Provinsie is die feit dat die Ligbloues nog net een keer die knie in ‘n hoofwedstryd gebuig het. Dit was in 2001 teen die Suidwestelke Distrikte (20-26).

Die Blou Bulle (voorheen Noord Transvaal) was sedert 1964 nog net nege keer in die hoofwedstryd betrokke waarvan die unie agt keer as nie-amptelike kampioen gekroon is.

Gepraat van SWD – die span staan vandag die kans om die toernooi onoorwonne af te sluit. In die dae van Danie Craven sou dit sonder twyfel op die tafel gewees het dat die Volstruisboere en die Griffons mekaar in die hoofwedstryd sou pak.

Maar ons is in 2019 en SWD sal om 12:30 teen die Westelike Provinsie se XV-tal te staan kom. Die Griffons is ‘n groter onreg aangedoen dat hulle die gevriesde dou om 08:00 teen die Sharks van Grey se hoofveld moet afspeel.

Die Perses spog ook met ‘n onoorwonne status. Die Perses en Volstruisboere het sonder twyfel van die mees opwindende rugby tydens die Cravenweek opgedis. Dit terwyl ‘n span soos die Goue Leeus nog nie ‘n wedstryd kon wen nie daarna teen die gasheer, die Vrystaat, op die hoofveld sake sal uitspook.

Die bepalings is:

A-veld - 08:00: Griffons vs Sharks; 09:30: Goue Leeus vs Vrystaat; 11:00: Grens vs Boland; 12:30: Suidwestelike Distrikte vs Westelike Provinsie XV; 14:00: Westelike Provinsie vs Blou Bulle .

B-veld - 08:00: Griekwas vs Goue Leeus XV; 09:30: Limpopo Blou Bulle vs Luiperds; 11:00: Valke vs Blou Bulle XV; 12:30: Oostelike Provinsie vs Pumas.

[powr-comments id="8a907d79_1562390325387"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.