Grey blitzkrieg Paarl Boishaai in tweede helfte tot sege van 43-24

Written by Hannes Nienaber

NewsGGreyBoishaai School of Rugby | Grey blitzkrieg Paarl Boishaai in tweede helfte tot sege van 43-24 - School of RugbyDit gaan keer kos om Grey-kollege se eerste rugbyspan as die land se voorste skolespan te onttroon.

Grey het Saterdag op sy tuisveld in Bloemfontein met 'n sege van 43-24 oor die Hoër Jongenskool Paarl vir die soveelste keer die seisoen gewys dat hy bykans enigste agterstand in die tweede helfte kan uitwis. 

Boishaai het kort voor rustyd 'n voorsprong van 17-5 geniet, maar Grey het soos oudergewoonte net voor lemoentyd punte aangeteken. Die besoekers het rustyd met 'n voorsprong van 17-10 gaan rus na Grey slot, Tiaan Jonker, die voorsprong met 'n drie gekrimp het. 

Grey het 38 onbeantwoorde punte aangeteken om uiteindelik gemaklik as oorwinnaars van die veld te stap. Boishaai se agtsteman, Gideon van Wyk, het met die laaste beweging gaan druk om aan sy span se vertoning meer aanslag te gee.  

Grey se losskakel, FC du Plessis, was op sy stukke en het drie keer Boishaai se doellyn oorkruis. Du Plessis het ook die tuisspan se agterhoede seepglad weggestuur en die tempo van die wedstryd help bepaal. Sy direkte teenstander, Kian Meadon, kan ook tevrede met sy vertoning voel. Meadon het sy skopskoene aangehad. 

Grey se kaptein en agtsteman, George Cronjé, het sy span van voor gely. Die agttal se harde werk voorlangs het die grondslag vir die haastige agterhoede gelé om in die tweede helfte na 'n hoër rat oor te skakel. Die voorryman Jan-Hendrik Wessels, het ook weer met sy spel in die vastelos beïndruk.

Hopelik het die SA Skole-keurders asook afrigters na die wedstryd gekyk. Die spel wat in die wedstryd deur die twee spanne opgedis is, is die tipe rugby wat die SA Skole-span behoort te speel later vanjaar en in die nabye toekoms indien hulle suksesvol wil wees. 

Boishaai se vleuels, Javier Farmer en Angelo Osch, het albei met hulle vaart beïndruk. Hulle behoort nog 'n hele paar spanne se verdediging behoorlik vanjaar te toets. 

Die plaasvervanger-vleuel, Marcell Muller, het soos gebruiklik kort na sy verskyning op die veld die doellyn oorgesteek om die finale spyker in die doodskis. 

Hoewel ons nou eers ongeveer op die halfpadmerk van die seisoen is, kan Grey se span van 2019 indien hy op sy huidige vertoningslys voortbou in dieselfde asem as dié span van 2007 genoem word. Heelwat van vanjaar se span se vertonings herhinner aan dié van 2007. 

Puntemakers: 

Grey-kollege 43 (10) - Drieë: FC du Plessis (3), Tiaan Jonker, André-Hugo Venter, Marcell Muller, Strafdrie. Doelskoppe: Juan-Dee Olivier (3). Hoër Jongenskool Paarl 24 (17) - Drieë: Javier Farmer (2), Gideon van Wyk. Doelskoppe: Kian Meadon (3). Strafdoel: Meadon.

Ander spanne: 

o.16: Grey-kollege 32, HJS Paarl 21. o.15: Grey-kollege 20, HJS Paarl 15. o.14: Grey-kollege 8, HJS Paarl 5.

FOTO: Morgan Piek

[powr-comments id="2ccda29e_1557653738270"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.