Gimmies en Jansies in opwindende stryd op Noord/Suid

Written by Hannes Nienaber

NewsGDawidKellerman School of Rugby | School of RugbyPaarl Gimnasium het die bo-toon met 54-32 teen EG Jansen van Boksburg op die eerste dag van die Barloworld Noord/Suid-toernooi in Pretoria gevoer.

Maklik was dit egter nie vir Gimmies nie. Die feit dat EG Jansen se binnesenter, Dylan Schwartz, vir sy vertoning as Speler van die Wedstryd aangewys bekleemtoon die feit dat dit ‘n strawwe tweestryd was.

Schwartz het ‘n driekuns aan drieë behaal en sy tweestryd teen sy direkte teenstander, Dawid Kellerman, gewen. Kellerman het egter self ‘n indrukwekkende vertoning gelewer en self twee keer ‘n draai agter die doellyn gaan maak.

Dit was ‘n wipplankstryd tussen die twee spanne. Gimmies het rustyd net-net met 28-24 voorgeloop. Elke keer wat Jansies hulle agterstand laat krimp het, het Gimmies net te maklik weer punte aangeteken.

Die vleuel Stravino Jacobs het op ‘n slag vanaf ‘n afskop die bal voor EG Jansen se neuse weggegryp en net kort onder die pale platgetrek. Gimmies se slot Mark Etzebeth is vir sy goeie opvolgwerk met die drie na Jacobs se goeie werk beloon.

Gimmies se haker, Van Eeden Hanekom, het ook ‘n goeie wedstryd beleef.

Garsfontein het oor te veel skietgoed vir Outeniqua beskik en met 50-22 as oorwinnaars van die veld gestap. Die skrif was teen rustyd met die telling op 31-8 in Garsies se guns reeds teen die muur.

Garsies se agtsteman, Junior Snyman, het ‘n reuse vertoning vir die wenspan gelewer. Hy het ook dubelle driedruk-plesier ervaar. Buiten Snyman kan die skrumskakel, Jurich Claassens, die losskakel, Keagan Johannes, en die flank Ettienne Terblanche heel tevrede met hul vertonings voel.

Vir die Kwaggas het sy buitesenter, Darren Fortuin, blink vertoon. Die losskakel, Zinedine Robinson, verdien ook ‘n klop op die skouer.

Outeniqua se tweede span het wel vroeër in die dag sy eweknie van Garsfontein, die Grizzlies, hul eerste nederlaag in twee jaar met 28-26 toegedien.

Waterkloof het in die tweede helfte terug geveg om die Hoërskool Durbanville met 22-17 te troef. Durbanville het teen rustyd ‘n skrale voorsprong van 10-7 geniet.

Klofies se senter Jandré Pretorius was sy span se beste speler op die dag. Hy en sy sentermaat, Theunis Pretorius, het goed in die middelveld gekombineer. Vir Durbanville kan sy heelagter, Diagho Miggel, en senter Juanré de Klerk tevrede met hul vertonings voel.

Puntemakers:

Paarl Gimnasium 54 (28) – Drieë: Van Eeden Hanekom (2), Mark Etzebeth, Dawid Kellerman (2), Stravino Jacobs, Tiaan Swanepoel, Dean Nieuwoudt. Doelskoppe: Charl Jansen (7). EG Jansen 32 (24) – Drieë: Dylan Schwartz (3), Franco Enslin. Doelskoppe: Aurelio Philander (3). Strafdoele: Philander (2).

Garsfontein 50 (31) – Drieë: Drian Lerm (2), Junior Snyman (2), Kallie Calitz, Keagan Johannes, Jurich Claassens, Diego Appollis. Doelskoppe: Johannes (5). Outeniqua 22 (8) – Drieë: Ridge Gaffley, Zinedine Robinson, Darren Fortuin. Doelskoppe: Darren Fortuin (2). Strafdoele: Fortuin.

Waterkloof 22 (7) – Drieë: Jandré Pretorius, MJ Janse van Rensburg, Charl Knoetze. Doelskoppe: Ian Trollip (2). Strafdoel: Trollip. Hoërskool Durbanville 17 (10) – Drieë: Juanré de Klerk, Diagho Miggel. Doelskoppe: Mondrey Titus (2). Strafdoele: Titus.

Home  |  Legal

 Website developed, hosted and maintained by : Biographix Web and Art

X

Right Click

No right click